Thursday, November 19, 2009

raasbekkie1 verklap haar hede

Raasbekkie1 verklap haar hede


Honderde mense wil by my weet wie is Raasbekkie nou eintlik? Dit is nie 'n maklike vraag om te antwoord nie want Raasbekkie verban sonder veel moeite haar verlede uit haar gedagtes. Die rede hiervoor is dat sy as gevolg van sekere gewetenlose drankverkopers nie kan onthou of die verlede die goeie ou dae of die slegte ou dae is nie. Sy kan byvoorbeeld onthou sy het gewerk iewers maar sy kan nie onthou waar nie. (As iemand dalk kan onthou laat haar asb weet sy kan regtig doen met die pensioengeld wat hulle haar skuld.)

Huidiglik hang Raasbekkie rond. Meestal in biblioteke reg oor die land en selfs oor die grens afhangende van die reënval en tweedehandseboekverkopings. Soms versamel sy, of bedel sy, as jy semanties wil raak, 'n paar rand vir 'n lotto kaartjie. Die punt is sy hou streng by haar beginsels om in vryheid te lewe.

Naby, of soms in, die biblioteke is gewoonlik 'n internetkafe en dit is daar waar sy haar boekresensies skryf en ander dinge waaroor sy wil raas. Uit die aard van die saak het Raasbekkie omtrent al al die boeke in al die biblioteke gelees, party meer as een keer. Sy hou daarvan om aan haarself te dink as die boek-boemelaar-skrywer. In daardie volgorde.

Raasbekkie is tans besig om hard te lees aan Dr du Toit se boek God? Geloof in 'n postmoderne tyd. Sy sal vir 'n ewigheid kan blog oor die boek en nie omdat dit haar 'n ewigheid neem om die boek te lees nie. Nee, sy is ook filosofies ingestel en dink diep terwyl sy duimgooi tussen biblioteke.

Onthou om te click op advertensies of kommentaar te lewer sodat Raasbekkie 'n paar rand kan versamel vir 'n lotto kaartjie en 'n koppiekoffie by die internetkafé langs die bib hier in Gobabis
.

4 comments:

Margaret Alice said...

Ek dog jy werk elke dag in 'n oopplankantoor soos ek en droom van vryheid - nou het jy al klaar vryheid gewen? Wonderlik! Ek hou ook van lees en het nou Pratchett se "Unseen Academicals" in die hande gekry - my voete raak nie grond as ek sy boeke lees nie!

edmuse22 said...

Hi Peanuts

Raasbekkie se verbeelding werk volgens die kwantum fisieka beginsels waaroor jy in jou blog skryf. Hoe kan ek dit stel? Sy weet nie altyd of sy kom of gaan nie. Of waarheen sy kom of gaan nie. My broer het al Pratchett se boeke al drie keer gelees. Ek probeer begin met Sourcery. Sal jou laat weet hoe dit gaan.

Anonymous said...

As Raasbekkie in haar profiel aandui sy's 'n Pretorianer waarom sou sy koffie wil drink by 'n internet café op Gobabis? Haar GPS kort 'n diens.

raasbekkie1 said...

Dis miskien waar maar 'n GPS is nog glad nie op Raasbekkie se lys aan Kersvader nie. 'n GPS is sooo beperkend, in die goeie ou dae kon jy net se jy weet nie waar is 'n plek as jy nie na 'n braai op Pofadder wou gaan nie. 'n GPS is volksvreemd, hoe dink jy het Raasbekkie in Gobabis beland?