Sunday, October 25, 2009

Uit watter gedig het ek die gekry en wie is die digter?


'Waarheen sal jy gaan
en met watter skip?
die aarde is branding
en oral is klip,
of as jy wil vlug
uit die stad wat brand . . .'

Sunday, October 11, 2009

Vyftig van my gunsteling Afrikaanse boeke

Die lys is nog nie heeltemal klaar nie ek werk aan die ander 50 wat ek nog wil byvoeg.

  1. 1 + 1 - Berta Smit
  2. Adoons hulle - T. O. Honiball
  3. Alexander die God - Maurice Druon (vertaal)
  4. Bloeisels in die ryp - Ena Murray
  5. Danda - Chris Barnard
  6. Die agterbankers - Jean-Charles
  7. Die Bybel
  8. Die groot verlange: Die verhaal van Eugene N. Marais - Leon Rousseau
  9. Die Keurboslaan reeks - Theunis Krogh
  10. Die meisies van Maasdorp reeks - Stella Blakemore
  11. Die rooi granaat - Audrey Blignault
  12. Die seeboek van die sonderkossers - Jan Rabie
  13. Die Soekie reeks - Ela Spence
  14. Die Tekkies reeks - Cor Nortje
  15. Die tweeling trek saam - M.E.R.
  16. Die Uile reeks - Cor Dirks
  17. Droogte - C.M van den Heever
  18. Emil - Astrid Lindgren (vertaal)
  19. Frik - Ben Venter
  20. Geknelde land - F.A. Venter
  21. Griet skryf 'n sprokie - Marita van der Vyver
  22. In die jagseisoen - Paul C. Venter
  23. Janette - Sita
  24. Kaffertjie - Johan Engelbrecht
  25. Kambro-kind - F. A. Venter
  26. Kringe in 'n bos - Dalene Matthee
  27. Liewe Heksie reeks - Verna Vels
  28. Mislukte lewens - W.A. de Klerk en Rita Graf van Eewyk
  29. 'n Droë wit seisoen - Andre P. Brink
  30. 'n Potvol winter - Elsabe Steenberg
  31. Na die geliefde land - Karel Schoeman
  32. Ons is nie almal so nie - Jeanne Goosen
  33. Op die sonpad - P.H. Nortje
  34. Oranjeblanjeblues - Max du Preez
  35. Oupa Landman se viool - G.J Joubert
  36. Patrys-hulle - E.B. Grosskopf
  37. Pippie Langkous - Astrid Lindgren (vertaal)
  38. Poens die penkopjare - W.A de Klerk
  39. Rabbedoe van Rietkuil - Ena Murray
  40. Ridder van die wapad - George Brewin
  41. Saartjie - Bettie Naude
  42. Seks, drugs en boeremusiek - Koos Kombuis
  43. Siener in die suburbs - P.G du Plessis
  44. Skrik kom huis toe - Dolf van Niekerk
  45. Somer - C.M van den Heever
  46. Stoker - Ben Venter
  47. Stories van Bergplaas - Alba Bouwer
  48. Trompie - Topsy Smith
  49. Uit Juffrou se dagboek - Sita
  50. Wat is kommunikasie? - M. van Schoor

Kyk onder my blogs vir newnoise1 as jy my 100 gunsteling Engelse boeke wil sien.

Tuesday, October 6, 2009


Poens, die Penkopjare
W.A. de Klerk
1958

Is hierdie boek nog in druk? Dit sou jammer wees as dit nie is nie. Hier is 'n wonderlike stukkie Suid-Afrikaanse geskiedenis van die patriargale tye toe die man in die huis se woord wet en 'n skande 'n skande was.

Poens is 'n oulike klein klits van so 10 of 11, hy kruip binne twee of drie bladsye so diep in jou hart hy's soos jou kleinboet. Hy word pimpel en pers geslaan (lees mishandel) deur sy Oom Kowie op die plaas en Skoolmeester Franken by die skool. Poens se skandalige verlede - niemand weet presies waar hy vandaan kom nie - gee hulle 'n verskoning. Oom Kowie wil die slegtheid uit Poens uit donner en die Skoolmeester moet sy frustrasies op iemand wreek.

Die enigste mense wat Poens se diepte en oulikheid raaksien is Oom Kowie se twee susters Tant Patta en Tant Tatta en Outa Plaat. Die twee susters het nooit kinders gehad nie en smag daarna om 'n kind groot te maak. In Outa Plaat het Poens iemand wat na hom kan luister en die regte vra kan vra, sy enigste vadersfiguur. Outa Plaat se gebroke Afrikaans keer nie dat hulle mekaar verstaan nie, 'Bitte'bek . . .! Jy moe' jou plek ken ga-hô . . . ? Jy moet hom ken, jis!'
Al drie is magteloos teen Oom Kowie se besluite en die dragte slae wat hy aan Poens uitdeel.

Die trant het my herhinner aan 'n ander boek met die kind as buitestander. Dolf van Niekerk se Skrik kom huis toe. Altwee seuns het 'n gebrek aan iemand om mee te praat oor wat in hulle koppe aan die gang is, altwee kry wel 'n randfiguur wat vir hulle omgee.


Dit is in Oom Kowie dat W.A de Klerk meesterlik die patriargale boer voor jou oë laat staan. Sy woord is wet en hy steur om nie veel aan Poens of Ou Plaat of sy suster Tatta nie. Hy verstaan van slae gee, dit en harde werk is al oplossing wat hy het om Poens reg te ruk van sy donker verlede.

Met die Skoolmeester se Duitse aksent, sidder jy om te dink hoe die kinders self later gaan Engels praat, "Plies continue now, Magdel, vill you plies recite - so zat ze udder can hear how zey must do it, heigh . . . ?" En die kinders se Engels is baie erger.

Poens laat jou diep dink oor hoe dinge sedertdien verander het en hoekom dit noodwendig moes verander. Koop dit as jy dit iewers sien by 'n tweedehandsewinkel en laat my weet as dit nog in druk is.

Sunday, October 4, 2009

'Ek het te veel respek vir u om te sê u jok' Neels Jackson.

Volgens die artikel in Beeld was Neels Jackson, 'n joernalis by Beeld, en prof Adrio König aanmekaar. Die twee was by die Boek-Oase op Aardklop.

Raasbekkie hou nie daarvan as mense stry en sy is nie by nie. Veral nie as dit twee intellektuele Christene is wat mekaar wil uithaal nie. Die heerlikste ding van stry oor godsdiens is dat dit soos politiek is: jy kan praat en praat sonder om in die minste te weet waarvan jy praat. Onthou julle nog vir John Vorster? Ai en al daai dominies van ons kleintyd wat vir ons borde vol soetkoek gevoer het . . .

Gevegte breek maklik uit by godsdiens debatte, Raasbekkie het eenkeer so opgewonde geraak oor 'n godsdienstige standpunt dat sy haar sigaret in die ander party se glasie Red Heart Rum en coce doodgesus het.

Sy wil graag saamstry maar dit is effens striemend dat sy nog nie prof Ben du Toit se boek, God? Geloof in 'n Postmoderne tyd gelees het nie. Jackson sê prof Konig vertolk die boek verkeerd. Du Toit glo volgens König nie in die maagdelike geboorte, die wonderwerke, die bose magte, die twee nature van Christus en die drie-eenheidsleer nie. König verdedig verder die ortodokse manier van glo oor Jesus se opstanding, met ander woorde dat hy uit die dood opgestaan het.

Hoekom is dit so moeilik om in die maagdelike geboorte te glo? As kinders in proefbuise gemaak kan word kan 'n maagd vandag swanger raak as sy wil.

Volgens die Bybel was daar na die kruisiging 'n aardbewing en die dooies het uit hul grafte opgestaan. En mens kry mos in party lande goed wat hulle Zombies noem, the living dead, eeeuuuuh. Ons weet danksy die kerk en wetenskap nie genoeg van die goed af om ons meer te kan uitspreek daaroor nie. Jy kan debat hou tot jy blou is maar sonder al die feite tot jou beskikking gaan jy nerens kom nie. Sonder feite kom dit net daarop neer dat jy glo wat jy wil.

Ek hoop Jackson en Konig se oortuigings is verfrissend anders as die gewone en gebruiklike godsdienstige oortuigings wat mense vaskeer in plaas van vrylaat maar ek twyfel . . .

Die skynheilige gewydheid en beperkings wat die kerk gebruik om issues te debateer maak dit moeilik om nie soos 'n passer te redeneer nie. In die kerk se afmaking van ander godsdienste het hulle so te sê alle denke uit godsdiens gehaal want as jy skeef trap, buite die hond se spoor, is die hel jou voorland.

Raasbekkie lees heelwat na oor Zen. Dit is meer 'n leefwyse as 'n geloof en so spesifiek op realiteit gerig dat die wat so bewustelik leef realtiteit direk ervaar. Wat is Christus anders as ons uiteindelike verstaan, insig en begrip van die werklikheid?

Sodra Raasbekkie prof dut Toit se boek onder oë gehad het sal sy daaroor blog.

Klaar geraas. Lewe kommentaar asb, ja op die spelfoute ook ek sal dit regmaak.