Monday, November 23, 2009

raasbekkie1 oor die boek: God? Geloof in 'n postmoderne tyd




raasbekkie1 oor die boek: God? Geloof in 'n postmoderne tyd


Uitgegee: 2000

Uitgewers: CLF-Uitgewers

Hoekom moet mens God? Geloof in 'n postmoderne tyd lees? Nee, nie omdat Raasbekkie so sê nie. Dr Ben du Toit het lank gedink en gelees oor wat hy sê. Na al die gelees en gedink is dit vir hom moeilik om te glo die aarde is 6000 jaar oud en Adam en Eva het vir Tiranosourus Rex haar naam gegee.

Dit beteken nie Dr du Toit is beperk in sy denke nie. Wat dit beteken is dat hy sukkel om die materiële feite soos hy hulle ken te koppel aan die geestelike feite soos hy hulle ken.

Du Toit teken in die boek elke belangrike kopskuif in die geskiedenis van die mens se persepsie van wie en hoe die wêreld is aan. Het jy geweet die moderne wetenskap het uit die Christenlike denke ontwikkel? Dit is waarom daar volgens hom so 'n probleem ontstaan tussen wetenskap en Christenskap. Die groot waarnemers en wetenskaplikes die afgelope paar 100 jaar was Christene, insluitende: Descartes, Galileo en Kopernikus. Die breuk het gevolg nadat mense soos hierdie opgemerk het dat probleme wat voorheen aan bose geeste toegeskryf is in werklikheid wetenskaplik verklaar en opgelos kan word.

Raasbekkie is bly iemand het die intellektuele vermoë en die moed om weer al die feite op die tafel te sit en te sê, 'Kom ons kyk weer hierna.'

Probeer kalm bly terwyl ek Dr du Toit se 'take' op sonde gee:

'Die vraag is nou of hierdie persepsie van sonde soos in die premoderne, voorwetenskaplike tyd gesien en verstaan is enigsins verander is deur die aanbreek van die moderne tyd. Dit moet tog net logies wees dat die antwoord hierop bevestigend sal wees. Vir die meeste dinge wat in die premoderne tyd as aanvalle deur die Bose geeste gesien is, is daar vandag verklarings. Die wêreld-en-lewensbeskouing van die natuurwetenskaplike mens het so drasties en onherroeplik verander dat dit tog ook 'n invloed moet hê op die verstaan/siening van wat sonde is.'

Dr du Toit doen dan aan die hand dat ons vandag meer insig het as om iets soos alkoholisme sommer as sonde af te maak. Sy punt is dat die Christelike geloof gaan oor vergifnis en versoening.

Sy punt is ook dat ons moet begin dink oor wat ons dink oor God as ons wil hê ander mense moet ons verstaan. Hy skryf:

... intellektuele integriteit is vir my uiters belangrik. Dit is belangrik dat mens goeie, insigtelike redes kan aangee hoekom jy 'n bepaalde standpunt het en hoekom dit so belangrik is dat ander dieselfde standpunt behoort te deel ter wille van hulleself en hulle heil . . . 'n mens moet bereid wees om jou voorveronderstellings bloot te lê - daardie meganismes wat meestal onbewus 'vooraf' in jou verstand werk om jou iets op 'n bepaalde manier te laat sien of glo, nog voordat jy dit gehanteer/bevra het. Ek is van mening dat ons as Christene sonder hierdie intellektuele spiritualiteit die realiteite van die gekompliseerde postmoderne gemeenskap waarin ons leef, nie geloofwaardig kan aandurf nie - afgesien van die feit dat ons daarsonder mank sal gaan aan enige vorm van 'n gesonde spirituele selfbeeld: 'n mens moet immers ook met jouself kan saamleef . . . '

Dr du Toit het 'n belangrike boek geskryf wat kan dien as 'n besem vir die wat bietjie die stof uit hulle koppe wil vee en die vensters wil oopmaak vir vars lug. Sy argument lei mens om te besef dat ons in 'n onsekere wêreld lewe en dat hierdie onsekerheid ook deel is van geloof.

Raasbekkie stem natuurlik nie saam met alles wat hy sê nie. Sy dink nie sy stem saam dat die verwysing na Maria as 'n maagd kripties is nie. Of is dit? Is 'maagd' 'n ander woord vir 'n jongmeisie? Ek weet nie. Die punt van die Bybel is juis vir my dat sy 'n maagd moes wees . . .

Raasbekkie stem 100 persent met Dr du Toit saam dat ons moet dink oor wat ons glo. Per slot van sake as ons nie kan verduidelik hoekom ons glo wat ons glo nie sal dit mettertyd irrelevant raak. Mens kan tog nie net glo wat jy glo omdat jou Ouma dit geglo het nie. My Ouma was 'n dierbare Christen wat op geen manier oortuig kon word die aarde is rond nie, want volgens die Bybel was dit plat, daar staan dan dat daar 'n engel op elke hoek van die aarde staan. In haar dae kon mens dit seker nog aanvaar maar deesdae gaan mense wonder wat met jou aangaan as jy daarop aandring.

Raasbekkie verneem vanuit baie betroubare kringe dat Dr du Toit besig is om aan 'n hersiene uitgawe te werk. Die boek is tans uitdruk wat beteken die eerste uitgawe is uitverkoop - hou dus jou oë oop vir die tweede uitgawe.



No comments: