Saturday, November 14, 2009

raasbekkie1 raak vloekvry

raasbekkie raak vloekvry

Raasbekkie het lank gedink waaroor sy die week kan raas. Natuurlik nie oor werklike twispunte nie, onverwagse roem is die laaste ding waarin sy belangstel. Baie mense op die internet het al as gevolg van werklike twispunte onverwagse roem gekry en hul werk verloor en Raasbekkie hou nog altyd meer van 'n dak oor haar kop as van roem.

Die krieket gaan begin maar sy gaan nie raas oor Graham Smith nie sy is seker hy gaan meer as 8 lopies aanteken.

Raasbekkie het 'n interessante gerug gehoor en dit is naamlik dat Quentin Tarantino 'n film gaan maak oor Joost en die Blou Bulle.

Raasbekkie onthou 'n onderhoud met Joost in 'n heilige tydskrif waarin hy sedig opgemerk het dat hy nog net een boek in sy lewe gelees het en dit is die Bybel.

Om die eerlike waarheid te sê dit het vir Raasbekkie goed de Joost in gemaak.
Hoekom? Want sy vermoed die slegte beeld van die Afrikaner oorsee het iets te doen met mense wat ons uitbeeld as oningeligte bekvelders wie se lippe nog beweeg as hulle lees. En soms is dit waar. En sommige van ons lieg as ons lippe beweeg. Nee, sy weet nie wat die film se naam gaan wees nie, dalk 'Joost gets the Blues' of so iets.

Gepraat van ons beeld. Raasbekkie kry skaam as sy sien hoe baie mense, Afrikaanse mense, dink dit is spitsvondig om te vloek op die internet. Sy gaan nie hulle blog name of sinne hier herhaal nie. Gaan kyk maar self, as jy Afrikaans Google dan kry jy meestal of 'Die Bybel in Afrikaans' of 'n vloekwoord in die eerste sin van 'n blog.

Raasbekkie is oortuig vloek klink beter as mens praat as wanneer mens skryf. Sy is nou erg getempteer om hier in hierdie sin te vloek maar sy hou haar in. Vaderland, het jy geweet jou Ouma sal nooit jou blog kan lees as jy vloek nie? Dan is daar net jou Ma en Pa wat oorbly om vir 'n begin jou blog te lees.

Graham se telling is al bo 8, dit gaan reën.

Is hierdie gevloekery in swart op wit die ontlading van ons stress na Nasionale Party onderwys toe almal goed gesê het soos: 'Vergun my die geleentheid om ons voorslagbaksters aan u voor te stel?' Ja, dit klink nes Oom Oubaas.

Of is dit dalk onderdrukte woede omdat ons nie meer die Masters of the Universe is nie?

My punt is dit: As jy nie die Groot Afrikaanse Roman (GAR) probeer skryf nie moet nie vloek nie. As jy 'n GAR skryf moet jy vloek anders sal dit nooit die winkelrakke haal nie behalwe as 'n hygroman. Raasbekkie gaan haar nie hier uitlaat oor Afrikaanse letterkunde en die hygende spitsvondighede wat mens daar kry nie. Dit sal lyk na suurdruiwe.

Nou ja dit is al vir die week. Net een vraag nog: Is daar 'n verskil tussen Dryfsand en Sewende Laan behalwe dat die een elke aand op is en die ander net voel asof dit elke aand op is?

Daar reën dit . . .


3 comments:

Anonymous said...

Dryfsand is 'n uur lank.

Anonymous said...

Hi raasbekkie. Bly om te sien jy kyk darem krieket ook en lees nie net heeldag nie. Die balans ding ... ek is beindruk! Ek persoonlik dink ons AFRIKAANSE "CELEB'S" dink hulle kan met 'n ander stel reels deur die lewe gaan as ons ander gewone mense. Joost moet maar vat wat na sy kant toe kom!!! "Wat jy saai sal jy maai...".

edmuse22 said...

Nee, Raasbekkie lees nie net boeke nie soms volg sy ook Suid-Afrikaanse bekendes se doen en late vir 'n bietjie balans. Sy erken eerlik sy kan nie krieket kyk sonder om ook te lees of skryf nie. Met net 'n klein bietjie oefening weet jy later presies wanneer om op te kyk.