Friday, December 18, 2009

raasbekkie Beproef die Afrikaner



Raasbekkie druk nie graag mense in boksies nie. Sy hou daarvan om te dink mense het geen beperkings nie en as hulle kan leer hoe om die mure in hulle koppe af te breek is hulle, na alles, inwoners van die heelal. Raasbekkie dink mens moet jou veral nie deur jou kultuur laat beperk nie want mens is tog heelwat meer as jou kultuur.

Maar soms gebeur daar goed wat mens soos 'n Jack uit 'n boks skiet en dan moet daar iets wees waaraan jy kan vasgryp om te bly staan. Dan moet mens gryp na goed, al is dit grashalms, tot mens weer by die regte wortels kan uitkom. Iets om dan te onthou is dat jy nie iemand is wat maklik gaan lê nie. As 'n Afrikaner is jy na alles 'n fighter want jou voorgeslagte was fighters.


Kultuur is dalk wel 'n illusie maar mens moet iewers begin as jy so grawe na jou wortels in die universele oneindigheid van wie jy is. Raasbekkie het dus 'n paar aantekeninge gemaak oor wat 'n ware Afrikaner is (veral die wat al amper 40 of ouer is.)

  • Jy ken die naam van die lietjie waaruit die woorde Jy met jou mandolienkie ek met my bandolientjie kom al weet jy nie presies wat 'n mandolientjie is nie. Ek raai 'n bandolientjie is soos 'n banjo . . .
  • Jy is in konflik oor jou verlede want aan die eenkant is jy skaam en aan die anderkant is jy trots.
  • Jy bly soms Vrydae aande by die huis om Noot vir Noot te kyk en saam te sing.
  • Jy is deur diep waters en weet nou jy kan vir baie lank water trap.
  • Sewende Laan is vir jou soos kerk, net makliker.
  • Jy ken die weer op al die kontinente want jy het familie en vriende op al die kontinente
  • Jy is rekenaargeletterd sodat jy kan facebook en skype met familie en vriende op al die kontinente.
  • Jy is 'n intellektueel maar luister ook graag na songs soos 'Gee terug my Bangle' en 'Ek wil my baby hê vanaand.'
  • Jy worry baie oor die toekoms.
  • As iemand Ossewa sê dink jy aan Johannes Kerkorrel.
  • Jy is nie 'n volger nie maar wil 'n leier hê. As De La Rey more hier aankom sal jy seker vir hom sê hy moet sy ry kry.
  • As jy 'n man is is jy heel moontlik stil-bedonderd.
  • As jy 'n vrou is is jy 'n kenner op die gebied van hoe om 'n stil-bedonderde man te hanteer.
  • Jy kan tussen die lyne lees want jy is baie skerp met 'n goeie sin vir humor.
  • Jou familie is wêreldwyd bekend vir hulle goeie maniere.
  • Jy lees baaaaie . . .
  • Ten minste een van jou oupas was baie streng.
  • Ten minste een van jou oumas was 'n rots.
  • Jy is nogal diep maar jy steek dit goed weg.
  • Jy is 'n redelike mens wat kan erken as jy 'n fout gemaak het.
  • Jy het hare op jou tande.
  • Jy is uitstekend opgelei en jou kop en hande staan vir niks verkeerd nie. Of anders gestel jou hande staan reg vir alles.
Uit hierdie punte maak Raasbekkie die afleiding dat Afrikaners survivors is. En as jy dan nog ten volle tweetalig is kan niks jou terug hou nie. As jy drietalig is in ons veeltalige land is die wêreld jou oester. Jy weet mos hoe maak hulle pêrels . . .