Sunday, November 29, 2009

Raasbekkie oorweeg die goed, die sleg en die lelik van 2009

Soms dink Raasbekkie diep oor wat die lewe die moeite werd maak. Sy skryf die items op 'n lys en hou dit byderhand wanneer alles te veel raak. Jy is welkom om ook van hierdie items op jou lys te sit as dit jou sal help deur die laaste maand van 2009.

  • As jy klaar is met skool het jy heelwat om oor dankbaar te wees. Na skool raak alles net eenvoudig beter. Veral omdat jy nou kan lees en skryf. Anders as daardie boelies wat so besig was om almal te boelie dat hulle 'n baie swak punt vir houtwerk gekry het. (Sit hierdie item op jou lys en kry 20 punte.)

  • Raasbekkie is elke dag dankbaar dat daar nie 'n stuk ys van die noordpool afgebreek het en deur 'n orkaan soos Katrina tot reg bo haar kop gedra is nie. Kyk gereeld op en voel dankbaar dat daar nie ysberge deur die lug vlieg nie. Nog nie . . . (Sit 10 punte by as daar nog nooit 'n ysberg op jou kop geval het nie.)

  • As jy altyd betyds by die afstandbeheer kan uitkom voor My Name is Earl begin het jy regtig baie om oor dankbaar te wees. (Sit 20 punte by as jy dit altyd regkry.)

  • As jy jou belasting voltooi en ingegee het en jy het reeds begin om jou ouers te vra om jou te help met die terugbetaling van jou aanslag is jy iemand wat ver vooruit kan dink en beplan en het jy baie om oor dankbaar te wees. (Sit net 3 punte by mens leen nie sommer geld by jou ouers nie.)

  • As jy 'n afspraak kon kry vir jou leerling- of bestuurslisensie binne 'n 100 kilometer radius van jou huis af is jy iemand wat ek graag van wil hoor sluit gerus aan as 'n volger. Geen kansvatters nie asb! (Geen punte want ek weet nie hoe jy dit reggekry het nie.)

  • As jy nie weet van Joost se onderbroek nie kan jy dankbaar wees. Natuurlik is jy dan 'n alien van 'n ander planeet af en moet jy asb nie aansluit as 'n volger nie. (Tien punte want jy is 'n alien en dit tel nie.)

  • As jy meer as 6 boeke gelees het die afgelope jaar het jy baie redes om oor dankbaar te wees want eerstens het jy tyd . . . en tweedens kan jy lees. (Nee, jy kan nie baie vinnig lees nie maar jy kan darem lees.) (Sestig punte, tien punte vir elke boek.)

  • As jy nog werk het na hierdie jaar het jy eintlik niks om oor te kla nie. Ek weet nie eers hoekom lees jy hierdie lys nie. (Geen punte jy het werk.)

  • As jy die persoon is wat deur die verkeer vleg teen 50km per uur vinniger as die motorbestuurders langs jou en voor jou het jy regtig rede om dankbaar te wees - eendag gaan iemand jou inhaal en uithaal. (Minus 40 punte.)

  • As jy vir die ou wat 50km per uur vinniger as jy deur die verkeer vleg 'n paar tekens gegooi het in 2009 kan jy dankbaar wees dat jy nog al jou ledemate het. (Tien punte.)

  • As daar nie iemand by jou huis ingetrek het terwyl jy net gou Checkers toe is nie het jy veel om oor dankbaar te wees. (Nul punte jy het 'n huis.)

  • As jy die nasionale volkslied beter kan sing as daardie man in Frankryk is jy reg vir enige iets en het jy baie redes om dankbaar te wees. (Vyftig punte.)

  • As jy nie iemand ken wat die vuvuzela kan bespeel nie is jy voorwaar bevoorreg. (Twintig punte.)

Jou puntetelling

Minder as 20

Kry asb dadelik professionele hulp.

Meer as 100

Jy verstaan die konsep van dankbaarheid.

Meer as 150

As jy aan geen afhanklikheidsvormendemiddels soos koffie, sigarette, gaskoeldrank met roomys in of Leon Schuster se Bokke CD verslaaf is nie is jy diep dankbaar. Laat weet asb hoe het jy die lisensieafspraak gekry en stuur ook wat jy op jou lys het aan.







No comments: