Tuesday, October 6, 2009


Poens, die Penkopjare
W.A. de Klerk
1958

Is hierdie boek nog in druk? Dit sou jammer wees as dit nie is nie. Hier is 'n wonderlike stukkie Suid-Afrikaanse geskiedenis van die patriargale tye toe die man in die huis se woord wet en 'n skande 'n skande was.

Poens is 'n oulike klein klits van so 10 of 11, hy kruip binne twee of drie bladsye so diep in jou hart hy's soos jou kleinboet. Hy word pimpel en pers geslaan (lees mishandel) deur sy Oom Kowie op die plaas en Skoolmeester Franken by die skool. Poens se skandalige verlede - niemand weet presies waar hy vandaan kom nie - gee hulle 'n verskoning. Oom Kowie wil die slegtheid uit Poens uit donner en die Skoolmeester moet sy frustrasies op iemand wreek.

Die enigste mense wat Poens se diepte en oulikheid raaksien is Oom Kowie se twee susters Tant Patta en Tant Tatta en Outa Plaat. Die twee susters het nooit kinders gehad nie en smag daarna om 'n kind groot te maak. In Outa Plaat het Poens iemand wat na hom kan luister en die regte vra kan vra, sy enigste vadersfiguur. Outa Plaat se gebroke Afrikaans keer nie dat hulle mekaar verstaan nie, 'Bitte'bek . . .! Jy moe' jou plek ken ga-hô . . . ? Jy moet hom ken, jis!'
Al drie is magteloos teen Oom Kowie se besluite en die dragte slae wat hy aan Poens uitdeel.

Die trant het my herhinner aan 'n ander boek met die kind as buitestander. Dolf van Niekerk se Skrik kom huis toe. Altwee seuns het 'n gebrek aan iemand om mee te praat oor wat in hulle koppe aan die gang is, altwee kry wel 'n randfiguur wat vir hulle omgee.


Dit is in Oom Kowie dat W.A de Klerk meesterlik die patriargale boer voor jou oë laat staan. Sy woord is wet en hy steur om nie veel aan Poens of Ou Plaat of sy suster Tatta nie. Hy verstaan van slae gee, dit en harde werk is al oplossing wat hy het om Poens reg te ruk van sy donker verlede.

Met die Skoolmeester se Duitse aksent, sidder jy om te dink hoe die kinders self later gaan Engels praat, "Plies continue now, Magdel, vill you plies recite - so zat ze udder can hear how zey must do it, heigh . . . ?" En die kinders se Engels is baie erger.

Poens laat jou diep dink oor hoe dinge sedertdien verander het en hoekom dit noodwendig moes verander. Koop dit as jy dit iewers sien by 'n tweedehandsewinkel en laat my weet as dit nog in druk is.

No comments: