Thursday, January 14, 2010

raasbekkie kyk advertensies want daar's niks op televisie

Selfs in vakansietye moet mens jouself konstruktief besig hou. Mens kan tog nie net televisie kyk nie. Jy kan, terwyl jy televisie kyk, byvoorbeeld let op die advertensies.

Buitendien, met programme soos Supernatural en Heroes het mens geen ander keuse as om eder die advertensies dop te hou wanneer jy van jou boek, rekenaar of droewige Januarie 2010 begroting opkyk nie. Tensy jy DSTV het. Volgens Beeld slaan al hoe meer mense oor DSTV toe. Ek hou nog uit . . .

Advertensies reflekteer die samelewing waarin jy jou bevind en wys jou wat die tendense is. As jy weet wat die tendense is kan jy of baie geld maak of in angs en bewing hoop daar is intelligente lewe in die buitensteruim wat tot jou redding gaan kom binne die volgende jaar of twee. Al is jy arm.

Al weet almal advertensies skep net 'n illusie oor die ideale wêreld is daar niks soos 'n goeie illusie oor die ideale wêreld nie. Vra maar vir die mense wat strenger dissipline in skole afkeur en vir die wat die Matriek-eksamenvraestelle vir wiskunde en wetenskap opgestel het en toe kon nie eers professore dit deurkom nie.

Hier is my 5 gunsteling advertensies:

  1. Toyota se hond, Buddy, wat sy neus optrek vir die wildehonde met hulle lae horisonne en algemene lafhartigheid. Die advertensie is gemaak deur die bemarkingsagentskap Draftfcb. Toyota is blykbaar baie tevrede met Buddy volgens wat ek op die internet lees.
  2. Die Kentucky seuntjie wat vir sy ma vra hoekom haar maag so groot is. Jy kan sommer aan haar stem hoor sy het hom al 'n paar keer gesê . . .
  3. Die Windhoek Light man wat vir hom 'n braai bou in plaas van 'n waterfontein vir sy vrou . Ek hou veral van hoe hy sy bier met die padda se bek oopmaak. En ek drink nie eers bier nie. The Jupiter's Drawing Room het die advertensie gemaak. Ek's net nie seker of hulle ooit 'Windhoek Light' hardop sê nie?
  4. Die Windhoek Lager advertensie waar die man, Dave, die pink drankie met die sambreel in wil drink wat die vrou aan die oorkant van die kroeg vir hom gekoop het . . . Keep it real.
  5. Die Kit Kat advertensie. Mens stop waarmee jy besig is as daai ou I heard it through the Grapevine begin sing.

Hier is die advertensies wat my minder aangryp:

  1. Die vrou wat roomys eet en dan word sy 'n koningin of iets met honderde trompette wat dreun en raas. Hemel, dis net 'n roomys . . .
  2. Die 'I was there' sokker advertensie hou te lank aan. Teen die tyd dat hulle sê waaroor dit gaan staan ek al voor die yskas en kyk of daar nog 'n Kit Kat oor is.
  3. It's black and gold - wat is dit??? Kan nooit onthou nie. Is dit 'n advertensie? Nee, wag, ek dink dit is 'n song.
  4. Die apie wat die wyn steel in die Savanna advertensie.
  5. Die twee wat op die bank aan die slaap raak en droom oor nuwe kleure om die mure te verf . . .uh? Jare gevat om te onthou dit gaan oor verf. Is mos verf?

Advertensies het in enige samelewing 'n enorme invloed op die onderbewussyn en die psige. (Of is die onderbewussyn die psige?) Mens luister onbewustelik sien, di's hoekom hulle dit die onderbewussyn noem. Al is dit net dat die wysie in jou kop bly soos 'Braaivleis, rugby, sunny skies en Chevrolet.' Hoekom dink jy braai jy so baie?

Sommige advertensies is so erg dat sekere dokters jou sal afboek as jy die advertensies meer as een keer 'n week sien, byvoorbeeld toiletskoonmaakadvertensies. Snaaks genoeg is hierdie advertensies altyd in dieselfde minuut op die skerm as die oomblik waarin jy jou mes en vurk optel om aandete te begin eet. Dit is seker hoekom jy die televisie moet afsit voor jy eet.

Ek is altyd verbaas as die adverteerder net die naam van die produk op die skerm skryf en nooit hardop noem nie. Weet hulle nie die meeste mense staan op om 'n bier in die yskas te gaan haal voor die advertensie se naam op die skerm is nie? En daar voor die yskas gaan jy mos dan niks hoor nie. Duisende rande vloei in die wasbak af.

Goed of sleg, advertensies gaan eintlik net oor resultate en al hou ek nie van 'n advertensie nie is dit dalk baie effektief in terme van verkope of welwillendheid.

Ek beplan 'n artikel oor internet advertensies in die nabye toekoms . . . in die verre nabye toekoms.


1 comment:

Margaret Alice said...

Oi vey, ek HOU van die apie in die Savanah-advertensie! Ek en manlief hou die skerm met groot, blink verwonderde oë dop en wanneer daai kroegman sê "If you can hum it, I can play it" - skree ons van die lag - maar ons staan nie uit as diep denkers nie, vergewe ons tog ons klein plesiertjies.