Wednesday, January 20, 2010

raasbekkie lees Nostradamus en Daily Sun!!!



Ek lees nou hier 'n paar voorspellings van Nostradamus. Wat lekker is van sy voorspellings is dat jy daarin kan lees net wat jy wil. Hy sê jou alles behalwe of jy gaan kans kry om eendag jou pensioen op te gebruik. Oop vir interpretasie. . .

Daar is net een ding wat my soms meer verwar as Nostradamus se sukses met sy voorspellings en dit is die sukses wat Daily Sun behaal met die uitroeptekens in hulle koerantopskrifte en met hulle koerantopskrifte.

Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek voel vandag nogal sentimenteel oor Daily Sun want lyk my hulle het nogal bygedra dat daardie cute klein seuntjie wat weggeraak het se ma hom in die hande gekry het. Dis net die opskrifte en uitroeptekens waarvan ek nou praat.

Is dit een of ander nuwe tendens in joernalistiek waarvan ek onbewus is? Is dit Brits? Ek kan nou nie presies al die opskrifte onthou nie maar my rit in die oggend werk toe sou net nie dieselfde wees sonder die plakkate wat Daily Sun teen die pale op het nie. Nee, dit maak wragtag my dag as ek opskrifte sien soos 'Suitcase was my toilet! '

Aan die begin het ek gedink dit is een of ander verwronge grap maar na 'n paar jaar moes ek aanvaar dit is die werklikheid en geen grap nie. Soos ek 'n hele paar dinge moes aanvaar as werklikheid na my 30ste en 40ste verjaardae wat ek seker was eintlik 'n grap is.

Opskrifte soos 'Devil lives in my basement!' maak my nie bang nie, nee dis die uitroeptekens wat my bang maak. Een van jou eerste lesse in joernalistiek is dat jy 'n oorveeg kry as jy 'n uitroepteken gebruik sonder toestemming van die hoofredakteur. Eintlik moet die hoofredakteur dan eers toestemming by die eienaar van die koerant kry. Net die eienaar van die koerant mag uitroeptekens insit, soos byvoorbeeld 'My salaris die maand is weer astronomies hoog al moet ek dit nou self sê!' Maar by Daily Sun mag jy skynbaar nie 'n opskrif skryf sonder 'n uitroepteken nie. Kan jy dit glo!

Daily Sun se leserstalle groei teen die spoed van 'n bekende sanger se buite egtelike kinders aan! Die koerant verkoop 500 000 eksemplare per dag en op Naspers se webtuiste word gesê 5.2 miljoen mense lees die koerant! Elke dag! So, wat dit jou sê is dat jy moet weet wanneer jy maar al die reëls kan breek. Hier is nog 'n paar interessante feite oor Daily Sun!

Daily Sun is, so ver ek kan aflei, deel van die Media24 groep. Media 24 is deel van die Naspers groep. 'n (een) Aandeel in Naspers kos, as jy dit vandag koop, iets soos R280! Volgens die webblad waarop ek gekyk het bestaan die span wat so flink opskrifte soos 'Dog bites Man!' uitdink uit die volgende:

Redakteur
Themba Khumalo!
Nuusredakteur
Terry van der Walt!
Algemenebestuurder
Fergus Sampson!
Verspreiding
André van Tonder!
Uitgewer
Deon du Plessis!
Sirkulasie
Roelof Steyn!
Bemarkingsbestuurder
Ane Honiball!
Advertering
Des Pillay!

Oops! Ek hoop hierdie inligting is die nuutste, my internet het nou net afgegaan voor ek dubbel seker kon maak. Ek kan my net voorstel wat 'n prettige vreugde dit vir die Daily Sun span is om werk toe te gaan in die oggend. Dink net . . . Man goes to work!!

Ja nee, gewoonlik kyk ek nogal of ek dalk spelfoute gemaak het in my blogs want ek maak gemiddeld so dertig of veertig maar ek sê julle dit is nou iets van die verlede! Ek gaan nou ook 'n paar reëls begin breek!!!


1 comment:

Margaret Alice said...

Ja werklik! My angs oor uitroeptekens het begin by Terry Pratchett se opmerkings oor die intelligensiekwosiënt wat dienooreenkomstig verlaag soos wat die uitroeptekens vermeerder, veral in sy boek “Maskerade”, waar die beeldskone Christine net in uitroeptekens praat, soos dit iemand betaam wat net halwe selderystokkies eet!

Ek hoop Pratchett sit die aaklige Phantom agter hom wat Christine as sopraan gekies het bo Agnes Nitt, of Perdita, noudat die mensdom Susan Boyle gekies het oor die koppe vna Hollywood moguls wat haar NOOIT ‘n kans sangeres sou gegee het nie. Ek kyk na die YouTube-opname wanneer ek terneergedruk voel en lag heerlik saam met Piers en Simon wanneer die gehoor in vervoering raak.

Ek is nog steeds in vervoering oor die Lelike Eendjie-insident wat sy georkestreer het, en daar is nie genoeg uitroeptekens oo aarde om my vreugde te beklemtoon nie!!?!!!